Debutante

Laerskool Jan van Riebeeck het in 2012 die debutante-projek van die grond af gebring met die visie ingedagte dat elke ouerdroom daarvan, dat sy/haar kind as jong volwassene die wêreld ingestuur sal word met, nie net alle moontlike akademiese kennis nie, maar ook liefde vir mense, ‘n trots vir hul werk en ‘n bereidwilligheid om ‘n diens aan die gemeenskap te lewer. 

Die enorme taak van ouers en onderwysers om so ‘n toekomstige entrepreneur groot te maak, begin dus al vroeg in die lewe van ‘n kind. Hier word alle gretige leerders (en hul ouers) van Laerskool Jan van Riebeeck aan die begin van die skooljaar genooi om hulle lojaliteit aan die skool te bevestig deur by die Debutante-projek aan te sluit en sodoende fondse te genereer. Leerders in die Junior en Senior fases mag aan die projek deelneem en skakel by een van die volgende afdelings in: Junior Debutante: Gr. 1 – 3 en Senior Debutante: Gr. 4 – 7. 

Alle deelnemers word deur die jaar die geleentheid gebied om ambassadeurs, entrepreneurs en leiers te wees in die skool- en breër gemeenskap. 

Laerskool Jan van Riebeeck help, ondersteun en motiveer elke debutant met wat ook al nodig is om ‘n suksesvolle debutant te wees. Debutante moet langtermyn projekte aanpak en daar sal gereelde gestruktureerde en georganiseerde geleenthede gedurende skooltyd gegun word vir debutante om hul produkte te bemark en te verkoop. 

Ouers mag debutante help met bemarking, aankope en verkope van produkte of dienste, maar die kinders bly nog steeds verantwoordelik vir hul produkte om sodoende entrepreneurseienskappe te ontwikkel. 

Die leerlinge word gereeld beloon vir hulle harde werk met uitstappies. Leerders wat meer as R3000 per jaar insamel word beloon met silwer balkies aan die einde van hulle eerste en tweede jaar en in hul derde jaar word hulle vereer met ‘n goue balkie op die jaarlikse prestige-aand. Erekleure kan ook verwerf word indien ‘n leerder vir vier jaar lank deel vorm van hierdie projek. 

Die hoogtepunt jaarliks op ons Debutante-kalender is beslis ons Debutante bal, waartydens die Junior en Senior Debutante van die jaar aangewys word. Elke debutant wat ten minste R3000 deur die jaar ingesamel het, word uitgenooi na hierdie spoggeleentheid. 

Sosiale Netwerke





Beleide


Kommunikeerder


Adverteerders