Hulpverlening

Hulpverlening Wat is hulpverlening?

Hulpverlening is wanneer twee persone in ‘n een-tot-een verhouding tot mekaar staan en waar die een persoon die ander een help waar hy/sy hulp nodig het. D.w.s. die een persoon ervaar ‘n probleem en die ander persoon het die kennis of ervaring om hierdie spesifieke probleem aan te spreek en selfs te help oorbrug.

Wie is aangewese op hulpverlening?

In die klaskamerpraktyk is die leerder wat ‘n probleem ervaar om sekere vereistes watter vak ookal, te bemeester aangewese op hulpverlening. D.w.s. die leerder het die vereistes glad nie bereik nie of net swak/gedeeltelik bereik.

Waarom is hulpverlening nodig?

Wanneer ‘n leerder sukkel om sekere vereistes te bereik of net selfs gedeeltelik te bemeester, kan die volgende faktore ‘n rol gespeel het.

Die leerder se Afrikaans of Wiskunde is nie na wense nie, d.w.s bg. is nie op die vlak wat dit moet wees om die vereistes te bemeester nie.

Die leerder se gesindheid t.o.v. sy/haar skolastiese vordering is nie na wense nie, d.w.s die leerder gee glad nie om oor haar/sy vordering nie.

Die ouerbetrokkenheid van die leerder is nie na wense nie, d.w.s die leerder kry geen aanmoediging, ondersteuning en leiding van sy/haar ouers om vereistes te bemeester nie.

Fisiese gebreke – gehoor, spraak, sig ens. sal ook remmend op die bemeestering van vereistes wees.

Wanneer moet hulpverlening geskied?

Aangesien leerders deurlopend geassesseer word, sal ‘n leerder se werk duidelik uitwys of hy/sy sukkel met Afrikaans of Wiskunde. Hulpverlening sal nou gebied moet word om die spesifieke blokkasies in een van bg komponente aan te spreek. Die spesifieke blokkasie kan baie wyses van probleme wees bv. in Afrikaans sal leesvaardighede en spelvaardighede die twee hoofprobleme wees. In Wiskunde sal getalbegrip, vier hoofbewerkings en tafels weer die hoofprobleme wees.

Deur wie moet hulpverlening aangebied word?

Wanneer ‘n leerder in ‘n spesifieke leerarea onbevredigende werk lewer d.w.s. van die vereistes word glad nie of slegs gedeeltelik bereik is, die opvoeder wat die vak aanbied die persoon wat onmiddellik kan waarneem waarom die leerder onbevredigende werk lewer. Hierdie opvoeder is dus die onmiddellike aangewese persoon om die hulpverlening aan te bied. Die hulpverlening kan nou op verskeie maniere geskied.

Korrektiewe onderrig:

Dit sal gewoonlik daagliks in klasverband geskied in die skrifte. Hier sal die opvoeder individueel met die kind werk en sy foute uitwys. Hierdie wyse van onderrig moet so geskied dat dit as bewyse kan dien vir latere rekord doeleindes.

Heronderrig:

Dit is moontlik dat die aard van die leerling se probleem sodanig is, dat dit persoonlike aandag oor ‘n langer tydperk verg as wat die skoolsituasie toelaat. Heronderrig kan voorskool, tydens pouses of naskool geskied. Met die aanbieding moet ander sintuie betrek word om doeltreffende kommunikasie te bewerkstellig. Heronderrig beteken nie dat dit wat reeds in die klas gedoen is op dieselfde wyse herhaal moet word nie. Dit sal ook soms wees waar ‘n tweede en in sekere gevalle ‘n makliker assesseringstoets gegee word.

Hulpverleningswerkkaarte:

Aangesien die opvoeder presies weet waar die kind se blokkasie is kan werkkaarte opgestel word wat presies op die probleem gerig is asook op die vlak waarop die leerder funksioneer d.w.s makliker werk.

Inklusiewe onderrig:

• Volgens die Witskrif (Whitepaper 6) is inklussiewe onderrig:
• Die aanvaarding dat alle kinders kan leer en dat alle kinders ondersteuning nodig het.
• Is om te aanvaar en die feit dat alle kinders verskillend is te respekteer, en dat almal se leerbehoeftes verskil.
• Om die onderwystrukture, sisteme en metodieke aan te pas by die behoeftes van alle leerders. • Erken en respekteer verskille in leerders op grond van ouderdom, geslag, etnisiteit, taal, klas, leer hindernisse of HIV status.
• Is wyer as formele skoling en gee erkenning dat leer ook by die huis en gemeenskap en in formele en informele metodes en strukture plaasvind.
• Dit gaan handel oor verandering van houdings, optrede en metodieke om in die behoeftes van alle leerders te voorsien.
• Dus word daar van elke onderwyser verwag om aan te pas by elke leerder se behoeftes. Waar daar leerders is wat nie aanpas by die leerinhoud, hoeveelheid werk of tempo van werk nie, moet die onderwyser ‘n eenvoudiger werkkaart daar stel sodat hierdie leerder ook sukses mag beleef.

Aan die einde van elke kwartaal sal al die opvoeders, leerders wat nie die vereistes die kwartaal bereik of selfs gedeeltelik bemeester het nie, aanmeld op die hulpverleningsvorm. Met hierdie aanmelding sal baie duidelik uitgespel moet word watter probleme ervaar is, watter hulpverlening verskaf is en die onderhoude met die ouers. Datums is absoluut noodsaaklik. Hierdie aanmelding is noodsaaklik vir verdere verwysing na die SBST en vir toekomstige probleme wat kan ontstaan.

Die SBST tesame met die opvoeders sal bg. probleemgevalle bespreek. Die ernstige gevalle (leerders wat moontlike druipelinge kan wees) sal nou vir addisionele hulpverlening na skool gaan. Gewone hulpverlening in klasverband gaan steeds voort. Die vak onderwyser is nog steeds die verantwoordelike persoon om die hulpverleningsvorm op datum te hou.

Op watter wyses kan hulpverlening beperk of voorkom word?

Die bemeestering van vereistes kan wel deur alle leerders bemeester word indien daar volledige en voldoende kommunikasie en samewerking tussen opvoeder, leerder en ouer is.

Volledige kommunikasie deur die opvoeder tot die kind en ouer rakende die vereistes wat aangespreek gaan word, kan op die volgende wyses geskied:

Kwartaalprogram:

• Moet in elke vak aan die begin van elke kwartaal in elke leerder se skrifte geplak word. Die kwartaalprogram moet die volgende bevat:
• Die hoofkomponente van die werk wat tydens die kwartaal veronderstel is om behandel te word bv. Wiskunde: Getalbegrip – Plekwaardes en afronding. Vier hoofbewerkings – Optel, minus, deel en maal, ens.

Hierdie kwartaalprogram moet deur die ouers geteken word vir kennisname van die leerder se werksaktiwiteite in die vak gedurende die kwartaal.

Wyses van assessering:

Deurlopende assessering:

• Daaglikse assessering.
• Groepwerk
• Toetsies
• Diktee

Alle toetse en formele eksamens moet deur ouers geteken word vir kennisname na dit gemerk en assesseer is.

Onderhoudvoering met ouers van leerders wat nie vereistes bereik het nie moet gehou word. Dit kan telefonies of persoonlik gehou word.

Aantekening van onderhoude is verpligtend. Dit kan op die toetse of vraestel van die betrokke leerder geskied of aangeteken word in onderwysdagboek.

Voorbeeld van onderhoud:

• Telefoniese onderhoud met moeder van leerder op 16/3/2013. Moeder neem kennis van swak punt wat kan lei tot moontlike druiping. Moeder sal die probleem (verskeie redes) aanspreek. 18/3/2013. Handtekening waar gekry kan word baie noodsaaklik.
• ‘n Skriftelike bewys van ouers of mediese bewys tydens afwesigheid van skool moet altyd ingehandig word. Tydens toetse en eksamens sal slegs ‘n mediese sertifikaat aanvaar word vir verskoning.

Wanneer kan die onderwyshulpsentrum genader word vir hulp?

Die GDO se hulpsentrum is ten alle tye beskikbaar vir hulpverlening t.o.v. enige probleemgevalle rakende ‘n leerder.

Wanneer ‘n leerder na die Hulpsentrum verwys word moet die nodige dokumentasie die aanmelding vergesel.

Hierdie dokumentasie is die volgende:

• GDO aanmeldingsvorm
• GDO hulpverleningsvorm
• Afrskrifte van leerder se daaglikse werk rakende die probleem
• Toestemmingsbrief van ouers vir hulpverlening.
• Assesseringsverslae (toetse en vraestelle)
• Hulpverleningsprogramme
• Register van klasbywoning.
• Verslae van onderhoude met ouers.

Bg. dokumentasie moet deur die Hoof en DPO onderteken wees.

Alle besoeke, onderhoude en verslae van personeel van die Hulpsentrum moet deur die DPO aan die Hoof en ouers (waar nodig) deurgegee word.

Sosiale Netwerke





Beleide


Kommunikeerder


Adverteerders