Corlea Botha


Corlea is gebore op 16 Augustus 1987. Groot geword in Delmas/Springs. Haar talent is ontdek toe sy drie jaar oud was en sy het met stem en klawerbord lesse begin op die ouderdom van vyf jaar. Gedurende die volgende sewe jaar neem sy aan meer as 40 Eisteddfods en Nasionale Sangkompetisies deel waar sy amper elke keer wegstap as wenner. In 1996 maak sy haar teater debuut in Pretoria Staatsteater in die Italiaanse Opera “La Boheme” en ook in “Sound of Music”, as die jongste Von Trapp dogter, Gretl. Die pers het geskryf dat al sing sy saam met swaargewigte soos Mimi Coertze, Jarmilla Tellinger, Judy Page en Anne Power, sy die kollig steel elke keer as sy op die verhoog verskyn. Dieselfde jaar wen sy, as die jongste deelnemer, haar kategorie 5 – 8 jaar in die nasionale kompetisie Reik na die Sterre.

In 1997 stel sy haar eerste demo CD vry met die naam Corlea My First, waar sy almal verstom met haar vertolkings van groot liedjies soos Think Twice van Celine Dion. In 1998 neem sy deel aan Fantasy of Lights wat so ‘n reuse sukses was dat dit verskuif is na Nasrec en vir 6 weke lank aangebied is. 2002 word Corlea gekies as onderhoofdogter van Laerskool Jan van Riebeeck. Die skool het besluit om ‘n revue te doen met Corlea as hoofrol. Die produksie oortref alle verwagtinge en is met ‘n ekstra week verleng. Hierdie selfde jaar, as twaalfjarige, neem sy vir die laaste keer deel aan Reik na die sterre, (met meer as 7500 inskrywings) en stap weg met die louere as die algehele wenner! Dieselfde jaar word sy deur Earth Harmony uitgenooi om as Ambassadeur vir S.A. te gaan op ‘n kulturele uitreik na Japan. Sy word daarna nog twee agtereenvolgende jare deur die Japannese Organiseerders terug genooi. Hier oortref sy ook alle verwagtinge as leier en musikale regisseur.

In 2005 sluit sy aan by Hugh Masakela se maatskappy Chissa Records. In dieselfde stal is Sibongile Khumalo, Zwai Bala. Haar Afro Jazz CD “Shades of the Rainbow” word in 2006 vrygestel. Haar groot treffers was “Take me to Soweto” en die weergawe van Yvonne Chaka Chaka se “Kana Uchema”, wat weke lank op die treffersparades was en op verskeie radio stasies gespeel is. Die musiekvideo van eersgenoemde word vandag nog gereeld op TV uitgesaai. Die kleinseun van Quinsey Jones, Sunny D Levine, van Los Angeles, was die regisseur en Hugh die uitvoerende vervaardiger.

Sy was ook deel van die Meloding Jazz Festival wat in Sun City gehou is. Hier sing sy saam met Gloria Bosman, Judith Sephuma, Sama Jobe en die internasionale ster Anne Hampton Calway wat die tema lied van die “Nanny” geskryf het. Media 24 City Vision neem haar op ‘n toer deur Soweto waar sy verskeie monumente besoek, radio stasies besoek asook optree by Masakeng Jazz Klub. Corlea tree by verskeie koöperatiewe funksies op. By Mercedes se bekendstelling van hul nuwe C-klas, het sy saam met die Bala broers, Freshly Ground en die Johannesburgse Filharmoniese orkes opgetree. Sy tree ook op by die afskop van Lebo M. se premiere van Lion King, waar Oprah Winfrey ook ‘n gas was.

In 2008 kom sy en vriend Rudi Claase bymekaar en besluit om ‘n duet CD op te neem waar hulle hulde bring aan groot geeste in die musiek bedryf. Ons lieflinge / Our darlings word in 2008 vrygestel en is so suksesvol dat dit dubbel platinum verkope het in ‘n kort tydjie. Hul breek die rekord vir die langste periode op die SA top 20 asook die langste op die treffersparade vir ‘n debuut album. Tweede album “Drome” sien die lig in 2010 en verkoop ook dubbel platinum. In dieselfde jaar ontvang hul die Tempo en Vonk Toekennings vir Beste Nuwelinge asook Kontemporêre Album. Hul word genooi vir Skouspel Plus, Huisgenoot Skouspel en KKNK waar hulle met bekendes soos Juanita du Plessis, Kurt Darren, ens., sing. Hul is so gewild dat hul tot 27 vertonings in een maand doen. ‘n Lewendige DVD word ook opgeneem en die verkope staan ook op meer as dubbel platinum.

Sy verskyn is verskeie tydskrifte en koerante soos De Kat en die Sarie. In 2011 stel sy haar langverwagte solo album “Wie ek is”, vry. Sy skryf verskeie van die liedjies self asook ‘n paar saam met haar vervaardiger. Sy neem ook in 2011 duette op saam met Nicholis Louw, Brandon October, Steve Hofmeyer ens. Corlea skep, skryf en vervaardig self haar musiek videos. Sonvanger is ‘n groot gunsteling by die aangangers. Gedurende 2013 was sy ook deel van die ongelooflike Nataniël produksie Factory by Emperors Palace. Sy gaan in 2013 ook weer deel wees van Skouspel te Sun City waar sy ‘n duet saam met Nataniël gaan doen.

Sosiale Netwerke





Beleide


Kommunikeerder


Adverteerders