Iris Bester


Iris is gebore op 20 April 1946. Sy was ‘n leerling van Springs, wat haar Laerskool loopbaan aan Laerskool Jan van Riebeeck voltooi het. Iris het haar hoërskoolloopbaan voltooi aan die Hoër Meisieskool Hugenote, waar sy die onderhoofdogter in 1963 was. Sy was ook die kapteine van die swem en atletiekspanne. Iris neem aktief deel aan kunswedstryde en ontvang verskeie trofeë, diplomas en beurse vir openbare redevoering en drama.

In 1964 vertrek sy na Amerika as uitruilstudent op ‘n beurs van die “American Field Service”. Daar dien sy op die leerlingraad van “Reading High School”. Iris het aan die Universiteit van Pretoria gestudeer (1964 – 1968) en behaal die BA Honeursgraad in Afrikaans Nederlands. Terwyl sy gestudeer het, dien sy op die studenteraad (1968) en was ook Primaria van die Dameskoshuiskomitee (Asterhof).

Iris neem aktief deel aan verskeie stundente-aktiwiteite en dien op verskeie komitees. In 1968 ontvang sy Dux Erekleure vir leierskap aan die Universiteit van Pretoria. Iris behaal ook verskeie ander kwalifikasies, onder andere ‘n onderwysdiploma aan die Universiteit van Stellenbosch en ‘n lisensiaat in Spraak en Drama aan die Universiteit van Suid-Afrika.

Sy sluit in 1970 by die SAUK aan as radio-omroeper in diens van Radio Suid-Afrika (nou Radio sonder grense). Iris was ook regisseur en aanbieder van kinderprogramme en mede-aanbieder van verskeie ander programme: Jongspanateljee, vrouerubriek, studentevaria, musiekprogramme en vasvraprogramme. Van 1975 tot 1984 is sy betrokke by televisie as kontinuiteitsaanbieder op TV1 en TV4. Gedurende die tydperk ’83 tot ’92 is sy verantwoordelik vir verskeie programme op TV waarvoor sy die tekste geskryf het o.a. “Wielie-Walie” en “50/50”. In 1982 ontvang sy ‘n artes-nominasie as beste radio-omroeper. In 1983 doen sy ‘n enkel- en veelvuldigekamarakursus vir regisseurs en ontvang die toekenning vir beste Regisseur van die kursus by die SAUK. Sy begin ook in 1988 die “Iris Bester Produksies” waar sy verantwoordelik was vir insetsels van verskeie joernaalprogramme.

Iris ontvang in 2002 die ATKV Radioprys, die “ATKVeertjie” as beste aanbieder vir die aanbieding van Spektrum. Sy doen baie werk vir Dames met ‘n joernaalprogram spesiaal vir hulle. In 2005 ontvang Iris die erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir die Hoorbeeld “Kleur is Haar Taal” oor die lewe van die kunstenaar Bettie Cilliers Barnard.

Iris is getroud met Christo en het 2 kinders.

Sosiale Netwerke





Beleide


Kommunikeerder


Adverteerders